16 Februarie
2017 17:01
“Hallo, jy’s
nuut hier, wil jy ons vertel wie jy is?”
Wel, ja. My naam is Pieter, en sorrie, maar ek is nie ’n alkoholis nie.
Sorrie, julle ouens, ek weet jul nood is waarskynlik hoog ná die feestyd en
alles. Maar ek is so lankal op soek na ’n AA of iets vir mense met my soort struggle.
Veral so oor die seisoen van “vrede op aarde en in die mense ’n welbehae”.
Toe dog ek, ek moet maar net probeer om hier in te val en
dalk – miskien
– kry ek ook ’n sponsor wat my soort struggle verstaan? Die hoop
beskaam mos nie.
Ek het gehoor julle is goed met luister, en ek het nodig om gehoor te
word. Ek neem aan dis hoekom ons almal hier is, om gehoor te word, om gesien te
word en om erken te word. Om nie te dink jy hoort nêrens nie, om nie te voel jy
word na die buitewyke van die samelewing uitgestoot omdat jou stryd nooit einde kry nie...
Ek wil praat oor Kersfees. Ja, ek is ’n groot fan van Kersfees en
die betekenis daarvan, al is en bly dit meestal moeilik om met die verstand te
verstaan, ook omdat daar min geleenthede in my lewe is wat help om dit vir my
lewend te hou.
Dit is hoe dit is. Kersfees 2016: Jesus het gekom! Hierdie was ’n rêrige
vrye Kersfees, die eerste keer in amper 35 jaar! Ons is ná 36
jaar met die aanbreek van die nuwe jaar opnuut deur ons oorlog bekruip en
vasgekeer. Een van daai dae wanneer jy wil hê die tyd moet stilstaan. Maar dit het
gekom en gegaan, en hier is ek nou by julle, die AA.
Die organisasie met die twaalfpuntplan? Die plek waar daar nie
veroordeling is nie, waar daar tweede en derde kanse is.
2017 het gekom. Ek is terug in die loopgrawe van my struggle. Kersfees
was te kort en te vinnig verby. Weke voor die tyd – tot die 24ste nog – het ons
steeds nie geglo dit gaan werk nie – dat ons ook deel van ’n “gewone” Kersfees
gaan wees nie, ondanks die feit dat ons al maande daaraan beplan het – dat ons
vry sal wees om dit te vier, om sonder ons daaglikse oorverdowende sielsgeraas
van die oorlog wat in en om ons woed, die ruimte in ons koppe te kan oopmaak om
die dag te eien, om die dag se betekenis daai oorlogsruimte te kon laat
binnedring.
Dat ons dié Kersfees uit ons loopgrawe kon klim en gewoonweg asemhaal,
sonder besorgdheid of bekommernis – met oorgawe. En om as’t ware met die vyand
blad te skud omdat daar tot môre ’n wapenstilstand is.
Ons het die aftel na Kersdag versigtig benader; oorlog en Kersfees is
nie goeie pasmaats nie. Die aftel gee ons hartkloppings van die vreemdste
gevoelens van ongeloof, blydskap, vrees, afwagting, verwagting.
Is dit net ’n droom? Is ons vry om dit te vier? Is ons regtig deel van
hierdie Kersfees? Is Kersfees ons beskore? Durf ons deel wees van Kersfees,
wetende dat môre onvermybaar weer kom?
Oukersaand en Kersdag het nie teleurgestel nie. Jesus het opgedaag. Hy
het ons met Kerskouse vol geskenke voorberei en na ’n feesmaal op Kersdag
genooi – ons moes net aansit.
Ons het Hom ontmoet soos vergestalt deur eie familie! He took care of
everything . . . Ag, maar ek wil nie jul tyd mors nie.
“Nee, gaan gerus voort.”
Dankie. Ons was op 31 Desember 39 jaar getroud. Ons wou dit dié keer so
graag vier. Op die dag en datum. Die persoon wat ons betaal en wat ons geglo het die
loopgraaf sou beman, het besluit om die pad te vat om die Oujaar en die
Nuwejaar op ’n lekkerder plek uit en in te sien. ’n Groot krisis, veral ná my
rugoperasie.
“Ek verstaan nie?”
Jammer, jammer, ek veronderstel ek soek ook maar soos elke ander mens
antwoorde vir my stryd om dag vir dag vas te byt en om nie op te gee nie.
Ons loopgraaf is ons kinders. Ons oorlog is nie teen hulle nie, maar vir hulle. Albei in hul dertigs
en erg gestrem. Ons moet alles vir hulle doen. Dis ’n oorlog van ’n ander kleur. Fisiek,
geestelik, geldelik, dis een van daai soort oorloë wat ’n mens sélf nie aldag
verstaan nie, hoe kan jy van ander mense verwag om dit te verstaan? Maar dis nietemin ’n oorlog. ’n Bitter, alleen oorlog.
Ons is ná 36 jaar met die aanbreek van die nuwe jaar opnuut deur ons
oorlog bekruip en vasgekeer. Dis soos om deur die een of ander onsigbare mag van voor af – en met
mening – teruggegooi te word in ’n al hoe dieper wordende glibberige loopgraaf
sonder dat jy enige sê het of uitkoms kan sien.
Dit voel soos ’n terreuraanval wat jaar ná jaar in felheid toeneem – in
my kop en teen my lyf. Alles, maar alles druis in teen wat veronderstel is om normaal te wees.
Jou menswees word elke dag getrick omdat jou struggle jou elke
minuut van elke dag wil aftrek en plattrek, en jy moet vasklou om lewe en dood
– om nie finaal te sink nie.
Wanneer gaan dit eindig? Hoe gaan dit eindig? Dis so uitputtend. Ons is
banger as ooit tevore. Bang vir die volgende Kersfees en Oujaar en Nuwejaar,
maar baie meer nog vir die uitsiglose diep dal van die toekoms.
Net die Here alleen weet hoe dit sal wees, waar dit gaan eindig. Die stryd woed voort. Wie is óns sponsor, vir wie kan ons dit
alles vertel wat dit sal verstaan? Wat sal luister, wat sal hoor? Wie sien ons
raak?
Wie sal Sy liefde na ons toe bring – sonder voorwaardes?
Kersfees een keer ’n jaar is net nie genoeg nie.
Dankie dat julle geluister het.
Pieter
http://www.netwerk24.com/Stemme/MyStem/die-alleen-oorlog-van-n-gestremde-kind-se-ouers-20170216
Jy skryf pragtig Pieter-die woorde rok los in my bors 'n diep gevoel van empatie want ek hoor die weerloosheid en angs uit jou dieptes. Daai plek verstaan ek ook. Baie dankie vir hierdie openbare deeling.
ReplyDelete