Oppad in die vliegtuig beland Stefan in die
sitplek by die venster langs ons. Gawe, spontane ou.
Ons hou ons besig met lees.
Toe gesels hy met ons. Is lekker om ’n jong mens se entoesiasme te ervaar. Hy
vertel van sy werk, sy vrou se werk, sy seuntjie wat gek is oor alles wat met ’n
brandweerwa te doen het. Sy ouers wat afgetree is. Hy gaan weer pa word. Hy is 37 jaar oud.
En toe vra hy die vrae.
Jip, ons het kinders. Oudste is 37, ’n dogter,
en ons seun is 34. Hulle woon by ons. Hulle is erg gestremd. Jip. Ons moet
alles vir hulle doen. Ons is albei 65. Ons kan nie aftree nie. Ons moet werk.
Ek werk twee werke.
Stefan raak stil. Wat moes ons anders as ons waarheid vir
hom vertel het?
Die
Viljoens se storie op bladsy 10 in Rapport
van 3 September 2017 met hulle jong gestremde kinders het my weer aan Stefan op
die vliegtuig laat dink. Ons sewe en dertig jaar is ’n lang tyd van weggooi doeke
met kinders wat nooit ooit in hierdie lewe sal opstaan nie. Die neerlê van eie behoeftes
en verlangens het mettertyd die groot uitdaging geword. Om drome te begrawe.
Stefan
het onwetend – voordat hy ons waarheid gehoor het – begraafde drome kom
uithaal. Die noem van sy ouderdom. Die uitstraal en deel van sy jongman-energie
het my herinner aan wat nie kan en sal wees nie: Afgetree met ’n kleinseun wat ’n
brandweerman wil wees!
Ons
het ook met ons kinders, toe hulle klein was – soos die Viljoens, maar via
Wallis, in 1983 – die Philadelphia Glen Doman roete gedoen. Ek wens hulle net
die allerbeste toe. Mens leer mettertyd om van dag tot dag hierdie boot te roei
... vertrou dat ons self enduit staande sal bly.
No comments:
Post a Comment