Ek lees nou elke week n verskeidenheid
tydskrifte, danksy ‘n geskenk om dit aanlyn te kan doen. In Huisgenoot van 17
April 2014 lees ek die artikel oor Rick & Kay Warren se seun se dood
(P108/9), wat my laat dink aan ons eie situasie met Anke en Markus. Kay Warren noem
dat die mense wat met hulle empatiseer – se wêreld het nie op ‘n ‘’aaklige,
katastrofiese manier’’ tot stilstand geruk nie. ‘’Hul lewe gaan aan…’’
Professor Rabe van US sê ook ‘’na enige verlies
is ‘n mens se lewe nooit weer dieselfde nie, en na die verlies van ‘n kind
verander die ma en pa se hele identiteit’’.
Ons kinders is altwee ‘’dood’’ (nie letterlik
nie maar figuurlik), toe Anke so omtrent 2 ½
jaar oud was. Op hierdie dag, omtrent 30 jaar gelede – is ons meegedeel
dat Anke en Markus erg gestremd is, dat hulle nooit normaal sal ontwikkel nie (ten
spyte daarvan dat ons seker in erge ontkenning geglo het hulle is en was en sal
oukei wees – tot en met die oomblik van hierdie waarheid?).
Dit was op daardie dag – oppad terug uit Randfontein
Potchefstroom toe, dat ons wêreld op ‘n aaklige, katastrofiese manier tot
stilstand geruk is. Ons moes langs die pad stilhou vir wat na baie lank gevoel
het, ons kon netnie ophou huil nie. Ons lewe is en was eintlik nog maar altyd,
van daardie dag af, betreffende Anke en Markus – soortvan half in die lug,
onvas, onseker, party dae gevul met ongelooflike vrees soos ons ouer en ouer
word.
Ons het ons droom kinders op daardie dag van
waarheid verloor. Ons het daardie dag onwetend deel geword van die vreemde
subkultuur van gestremdheid en die wreedheid van die lewe jeens andersheid. Jy
word ongevraag deel van hierdie subkultuur se vereensaming, verwerping, selfs
minagting. Dis soms ‘n daaglikse geveg om nie tweedeklas te voel nie, om by te
hou met alles bekostig – hulp, weggooi doeke, medies. Die landskap van wie en
wat ons is verander steeds elke dag, die konfrontasie deur jou daaglikse
realiteit is soms meer as oorweldigend.
Die verlies van ‘n kind aan die dood
(letterlik), is verskriklik.
Die verlies van ‘n kind wat jy vanaf konsepsie
opgedroom het en dan verloor jy daardie kind net toe jy dink alles is en sal oukei
wees? en in sy/haar plek is daar ‘n vreemdeling wat nog nooit vir jou ma of pa
kon sê nie? dis ‘n langdurige eensame rou proses van ‘n ander kleur… dankie aan
‘n ieder en ‘n elk wat ons met liefde, genade en geduld liefhet en saam met ons
stap
No comments:
Post a Comment