Rosemary het my vroeg vanoggend benoud kom roep. Ek moet kom want Markus huil! Rosemary is 'n nuwe carer, sy weet self nog nie mooi hoe alles werk nie. Sy is nuut met Anke en Markus en hulle gestremdheid. Sy het haarself boeglam geskrik.
Markus het vanoggend weer sy rare en skaars hartverskeurende droë huil gehuil.
Hy huil byna nooit nie, maar as hy die dag hierdie huil van hom huil dan is dit regtig een van die mees pynlikste goed wat ek kan aanskou/ervaar. Die beste wat ek kan doen is om styf agter hom te gaan lê om hom so te probeer troos. Ek hou hom vas, streel hom op sy wang, vryf sy rug, praat saggies met hom in sy oor, vertel hom hoe lief ek hom het - hy huil sonder trane. Ek huil met trane. Hy is ontroosbaar, ekself is hartseer verby.
Wie weet wat in sy siel en gees gebeur as hy so huil? Huil hy oor hy in sy kamer vasgekeer is, huil hy oor die hartseer van die mensdom, huil hy want hy kannie praat nie, kannie loop nie. Huil hy oor die mooi dag buite by hom verbygaan? Hierdie huil van hom het seker nog net so vier keer gebeur. Hy sal vandag naby hierdie huil van hom bly.
Here wees ons genadig!
No comments:
Post a Comment