Wednesday 6 August 2014

Saterdagoggend - 2 Augustus 2014

ek word wakker in die nanag en dink aan Markus se hande toegedraai in lappe om dit uit sy mond te hou. Sy mobiliteit is ingeperk... hy is swak en gefrustreerd, hy eet sy hande…

… ek lê en dink aan my afgelope verjaarsdag en ervaar weer die beklemming om my hart van 62 word binne my Anke en Markus konteks (soos laasjaar en die jaar voor laas en die jaar voor dit), ek voel swak en gefrustreerd…

ekself wil my hande in my mond druk om my binneskreeu dieper af te druk… volgende jaar en die jare daarna? Anke en Markus... ek en Leona

… bly net voortbeur bly net voortbeur…  klou aan die lig/hemel/Jesus/hierna… nie dink aan moeg word, moedeloos word, inperking, isolasie of wegbreek nie...


Waar is die rus? waar is die rus? Is die rus elders. Waar is daardie elders? Die hier en nou is - Here soms so oorweldigend?


Sal dit help as ek net dieper lê en my oë toemaak… styf styf toemaak… ewige rus… ewige herstel. Miskien maar net die deure toetrek en wegry - en ry en ry en ry. Miskien is alles oukei as ek terugkeer... dalk is alles maar net n droom


… Kom dagbreek kom, net regop kom op gelyke grond. Maak tee, sit in die donker sitkamer. Stilte stilte stilte… tee - soet tee op my tong. My kop, my ore en my binnekant raak stiller, meer draagbaar… dagbreek kom. Kom dagbreek. Lig  lig lig… die nag vervaag… gister vervaag vandag lê voor

…my alleen onbekende reis (steeds onbekend selfs vir my), hou net aan en aan en aan… staan op sit die beker in die wasbak… is hierdie dag nou gebreek?


…vandag is ‘n ander dag dis ‘n heel nuwe dag , n dag van vooraf…amen

No comments:

Post a Comment